Versles: Ritme
Versles: Ritme
In die vorige reeks lesse het ons gekyk na die taal van die vers. Die geskikte taalgebruik binne 'n gedig. In die reël uit 'n gedig van die digter NP van Wyk Louw 'n laaste kuil van stilte tussen riet is daar niks wat onnatuurlik klink nie. Selfs sonder om dit in die konteks van die gedig te hoor, is dit duidelik normale taalgebruik, nie juis boekerig of hoogdrawend nie. Ons sou kon sê dit volg die stroom van die taalgebruik, geen ander bv. gedwonge patroon nie. Lees dit hardop. Luister hoe lank word laas- gesê; dalk ook kuil. Hoor jy die moontlikheid van 'n pouse voor tussen? Na hierdie vier lesse oor ritme, sal die lesse vir die volgende maand aan metrum gewy word. Baie mense dink ritme en metrum is dieselfde ding, maar jy as digter wil nie mense in jou gedigte onnatuurlik of snaaks laat praat nie, tensy dit onnatuurlike of snaakse mense moet wees, of mense wat hulle onnatuurlik of snaaks hou! As iemand sou opsê Dit IS die MAAND Ok-TO-ber, die MOOI-ste, MOOI-ste MAAND, is dit metries in orde, maar dis heeltemal vreemd. In elk geval, in Afrikaans kan jy aksenttekens gebruik om is en die ander hoofletter-sillabes te beklemtoon. Die Van Wyk Louw-reël hierbo is 'n perfekte jambiese vyfvoeter, maw daar is vyf voete, elkeen met twee sillabes. In Engels is dit iambic pentameter. Ons sou dit kon sing van bladmusiek af as 'n laas-te kuil van stil-te tus-sen riet. Elke tweede sillabe sou beklemtoon word: 'n LAAS-/te KUIL/ van STIL/-te TUS-/sen RIET/. 'n Jambe is 'n voet met twee sillabes, waarvan die eerste klem dra ('n heffing), en die tweede minder klem ('n daling). Dit neem nie die skoonheid weg van die reël nie! |
Hierdie Romeinse beeld, op 'n foto wat ek op die eiland Capri geneem het, is daar om ons te herinner aan die feit dat ons na die poësie streef, nie wiskunde of net verstandelike logika nie. Dis een van die kunste, soos beeldhou, musiekkomposisie of die skilderkuns. Dis per definisie iets wat met die sintuie en beelde werk. Daar is "gebiede van die gees" en gevoel, stemmings en vermoedens, wat nie 'n "hersenskim" is nie (altwee aanhalings uit gedigte van Elisabeth Eybers), maar waartoe slegs die hoogste kuns in staat is om (soms, by uitsondering) te reik.
|