Hiermee word die versklasse voortgesit wat al meer as vyftien jaar lank by die hAp (huis vir Afrikaanse poësie) in Capital Park aangebied is; daarvóór by Toulas en Up the Creek in Hatfield, by Johan aan huis (Ferndale), Lemon Rose Farm in Johannesburg, en ook talle private sessies.
Dit het begin met enkeldigters (die algemeenste soort!) soos Jan du Bruyn, René Bohnen, Louise Prinsloo, toe groepiegewyse in Johannesburg en Pretoria voortgegaan. Awater orals. (Lees "Awater" deur Nijhoff! Sy versamelde gedigte kan gratis afgelaai word by DBNL. Ook baie ander wondere.)
Uit die klasse, met inbegrip van 'n slypskool, het verskeie digters gedebuteer: of by Rosslyn-Pers, sy voorgangers soos Forum of by ander uitgewers. By Rosslyn het Gerda Fourie haar bundel Lywe wat losgekom het oopgestel. Haar tweede is op pad. Karlien van der Merwe, wie se roman Lucas die Boere-Oorlog in 'n totaal ander gevoelsmodus plaas, het met haar eerstelingbundel Ars Poetica visuele kunswerke en gedigte aan mekaar gekoppel, ménswêrelde gesnoer o.a. vanaf toeka se Korea tot 'n "Afrikaanse" kleindorp. Dit bevat ook kortverhale wat Romantiekfantasie en langarmdans omvat. 'n Nogal gedurfde publikasie in die Afrikaanse uitgewersbedryf. Nou het ons die scary Lien in Wonderland.
Mila Swanepoel se Gedagtes sal by Digsange 20 Mei bekendgestel word. By die vorige Digsange was Hermien Uys se Kruispad aan die beurt; by hierdie een van 20 Mei word toonsetting daaruit aangebied.
Bundels van Cornelius van der Merwe (Icarus), Lieb Sauermann (Donker vroue, Donker doem die nag en Psalms in ons tyd) het gekom. Donker doem die nag is 'n gedrukte papierbundel en ook, soos Mandi Engelbrecht se Speel vir tyd, 'n CD waarop die gedigte voorgelees word. Piet Badenhorst (Saamvat), Louise Boshoff (Witpad), Johan DU Geldenhuys (Taal en twak), René Bohnen (Spiraal) en wyle Jan de Bruyn is almal digters wat of hier gepubliseer is of enigsins geredigeer of gementor is. Die bloemlesing Verskeurings en die e-bloemlesing Klikspringer is hier gekeur en gepubliseer. Rosa Smit en Lucie Möller het na jare in die Versklas altwee by Protea gepubliseer. Met pragtige bundels.
DIGSANGE sal weer (die vyfde) gebeur. Ons het wel by die Monument gelees, op Erfenisdag. Versklas is periodiek Saterdagmiddae by HAP in Capital Park vir hulp by die skryf, redigering en keuring van jou gedigte.
Hier word die Orde van die Goue Pen 2012 deur dr. Fanie Marais aan Ian Raper oorhandig. Dit het 'n publikasiegeleentheid ingesluit. Daarom is Oorlopers gepubliseer; so verander Cordis Trust die literatuurgeskiedenis van ons taal.
Lieb Sauermann was 'n goeie vriend. Sy bundels by ons was Donker vroue, Donker doem die nag (met CD) en Psalms in ons tyd. Hy was ook op Klikspringer, en het saam met Johan de Jager gepubliseer. Watter vreugde om hom te geken het. Hy het nie ooghare gehad vir die koeke van die kanon nie, of (veral) rymdwang. Mens verlang aanmekaar na sy diep reguit lag.
Drie versklassers is oorlede: Dries Drost, Jannas de Beer en Hermien Uys. Ook Jan de Bruyn van versklasse by Unisa en in Venda. Vrede vir hulle geliefdes.
"Only dullness can kill art" (Robin Skelton): The practice of poetry
|