Hier kom gedigte wat ingestuur word. As dit (nog) nie op peil is nie, sal dit (nog) nie in die Versgalery geplaas word nie. As dit belofte toon, kan dit verskyn, en met die digter se instemming, op die werf geslyp word. Sou die finale weergawe regtig goed (selfs 'n kunswerk, poësie) wees, gaan hy op die Stemtone, versgalery-blad.
Hiermee wil ek beweer dat gedigte nie altyd (gewoonlik) volmaak is by eerste konsep nie. Daarvan getuig baie groot digters se "sketsboeke" (Van Wyk Louw, Tristia) en "galeie" (Opperman, Joernaal van Jorik); variante van Yeats, en talle ander. |
Hoor hier! Telkens word gepraat van die "akademiese" vereistes van die poësie. Die implikasie is dat digters grade in die literatuurstudie moet hê. Party praat selfs van sulke "taalkunde". Daar word vergeet dat van die beste en gewildste digters in Afrikaans nie noodwendig 'n kwalifikasie in Afrikaans en (verkieslik) Nederlands op D-vlak het nie. Andersyds is daar baie geskooldes en professore in die literatuur wat nie verse skryf nie. Soms: wat nie kan of nooit probeer het nie. Ook was van die grotes van bv. Dertig en Veertig (en Vyftig, bv. Blum!) glad nie gegradueerdes in die literatuurstudie nie. Party was nog nie akademici of senior akademici toe hulle die groot gedigte en bv. eposse geskryf nie! Een was 'n joernalis, een 'n dosent in die Opvoedkunde, ens. Natuurlik gaan dit oor gedigte eerder as digters. Kyk op hoe min gedigte berus die roem van bv. T.S. Eliot (of Marais!). Blum het beweer in die liefde en die kuns is daar slegs grade van mislukking.
Komposisie
Dikwels as 'n gedig begin lank word, moet jy of snoei of panele maak, dan terugstaan en kyk of groter dele as strofes bestaan of goeie effekte gaan bring. Dis duidelik uit die sketsboeke van groot digters dat moontlikhede lewend bly, selfs al is die vers al in 'n bundel gepubliseer. |
Iemand het nou gevra hoe belangrik leestekens is. Dit roer ook aan die vrae oor konvensionele teenoor eksperimentele vormgewing, of sistematies teenoor dinamies, soos WEG Louw dit genoem het. Hy het bygevoeg dat baie mense nie besef hoeveel moeiliker dit is om 'n gawe dinamiese vers te skryf as 'n goeie sistematiese een nie.
Ek dink dit moet per gedig besluit word, sodat die leser (ook die implisiete leser) die gedig kan hoor soos die skrywer dit hoor. Dan is dit nie net mode, of "jou styl" of ander voorspelbaarheid wat in elk geval reeds by cummings of breyten (o.a.) gedoen is nie. Dan word dit "gevormde betekenis". WH Auden het gesê 'n digter wat besluit om nooit te rym nie is soos 'n persoon wat verseg om sy hande te gebruik. Afrikaans het meer leestekens as Engels om die nuanses van die stemtoon te skryf. Die aksenttekens. Ons kan kursiveer (dikwels beter in die gedig as aanhalingstekens), en met oordadige ellipse (...) toon dat ons nie 'n kloe het nie. Lees met die oor is noodsaaklik. Dis hoekom swak rym so betekenisonvriendelik is. Dit word maklik hamerhoue wat niks toevoeg tot die betekenis nie. Daarom sê Robert Frost: "I'll wait for form". |
Dis te verwagte maar baie droewig dat baie mense, ook van hulle wat met die literatuurstudie en verwante goed te make het, oorhel na die sentimentele. Gemoedelike. Dis seker hoekom party keurders by uitgewers in reaksie vereis dat gedigte hard moet wees, ontdaan en gestroop. Maar dis 'n halwe waarheid wat verhef word tot absolute. Dis soortoordeel; dikwels ook stofoordeel. Maar teoreties kan groot poësie alle tekste wees/namaak: gebed, skelsessie, dreigement, grafskrif, wetsklousule, alles. Met alle middele wat gevind kan word. Ons het digters soos, om net twee te noem, Gert Vlok Nel en Antjie Krog wat gevoel en idee oopvlek tot aan die been. Het ons groot gedigte wat troetelverse vir 'n kind maak? Sonder om gemoedelik te raak: of is dit ook 'n soort, soos die pornografie (bv. die heterotiek) en legitiem solank dit nuut en monumentaal is?
|
Mens sou Derrida, Barthes, Foucault en ander ernstiger opgeneem het as hulle nie apodikties oor ALLE literatuur se eienskappe, beperkings, ideologiese ladings, ens. beweer het nie. Ook "Paddas"? "Sisteem"? "Seekoevlei"? Kamaan.
En dan: hoe wonderlik wetenskaplik is die gekwalifiseerde stellings soos met "meestal", "soms", "PARTY gedigte", "origens"; dus nie dadelik bewysbaar vals nie!
En dan: hoe wonderlik wetenskaplik is die gekwalifiseerde stellings soos met "meestal", "soms", "PARTY gedigte", "origens"; dus nie dadelik bewysbaar vals nie!
*** |
|