Daar kom 'n nuwe boek oor Van Wyk Louw se latere werk, deur Ian Raper. Die titel is voorlopig Verbeelde glas.
Die bundel Oorlopers bestaan uit afsonderlike gedigte; daar is geen sentrale tema, struktuurplan of "eenheidsfaktore" nie. Dis dan anders as Opperman se Blom en baaierd, wat as eenheidsbundel aanvaar word, hoewel m.i. nogal met meet en pas.
Meermale wil kritici so 'n "eenheid" aflei van of koppel aan die boek se titel, wat baie verydel word deur titels soos Nuwe verse! Ook die voorblad word betrek, asof die mense op die brug "oorlopers" is. Dalk kan jy dit doen; dis egter nie die enigste moontlikheid nie.
Betekenis word deur 'n leser gekonstrueer volgens die verdraagsaamheid van die gedig. "O die pyn-gedagte" van Totius gaan kennelik nie toelaat dat jy dit vertolk as sosialistiese slagspraak nie.
"Oorlopers" kan vir my met baie pret dui op: gedigte as klanksleutels om kunswerke te ontsluit; polisiemanne; hiperskakels; enjambementverse; mense wat vorige beskouings verlaat, dus selfs verraaiers. "Ruiter en perd" koppel lg. aan die Boere-oorlog (min of meer: ek glo saam met die skilder Turner dat die geskilderde sonsondergang nie presies die natuur namaak nie; met Marianne Moore dat dit "real toads in imaginary gardens" is). Die ooie van die skaapboer, so Van Wyk Louw dit, sal soms uiteraard in die skaapboer se verse blêr! Dis nie deterministies nie. Dit ontken gehele. In die biografie van Mimi Coertse wat ek geskryf het ('n Stem vir Suid-Afrika/ A life to sing) ontken sy dat sy haar sangstem geëerf het. Haar kuns is deel van 'n wêreld s'n; dus hoef die woorde van operas vir haar nie (almal) in Afrikaans vertaal te word nie.
Daar word in verskillende gedigte grense oorgesteek tussen mens en dier, selfs insek. Dit kom mens eers later agter (of jy konstrueer dit); talle gedigte is weggelaat uit 'n leeftyd van skryf en skrap. Wat gebly het, was na my objektiewe mening reg genoeg om te bundel: 'n geringe oes. Daar is ook 'n oorloop van die lewe af na die dood; van 'n boerestaat na iets anders. Ander gesigte en digters word betrek deur "oorlopers" soos ranke wat daarnatoe uitreik. Alles sover moontlik in die spreektaal, "dissonant gespan"; aangrensend aan Afrikatale soos Venda.
Met groot dank aan Fanie Marais en Cordis Trust!