Teerspieël
Die son se geelsap lek vinnig teen die oggend uit en ingekleur en aangetrek borrel ons lywe die dag in terwyl die wind ver bo tussen vliegtuie krap en skaamteloos begin druk aan die oggendvog ons vibreer teen minuutwysers van die dag en wolke sluip toenemend in getalle nader sodat die skerp voldaanheid van die son vedof terwyl ons besig is om bomenslike pligte te vermag later jaag die reën ons kakkerlak gewys voor strome water en weerlig uit as dit donderend versadig verbyskuif oor die rant warm strate trek diep teue van hul stoomsigare en blaas dit deur ons voete uit tot ons later stadig soos padda-oë breek deur skif op die oppervlak van ‘n opgeloste dag in kroeë en restaurante om die middag se tempo af te sluit. Na alles, in die aand as ons oor die pad stap vanaf die laaste glas wyn of bier dan reflekteer ons teerheid op teer in plasse water langs die straat wat die laat middagreën daar agterlaat. 01:20 |
Seisoene van water
’n Wolkskip swenk op en sy reënkiel ploeg diep sooie uit rooi hoëveld grond, slaan sy blitsende ankers drywend roekeloos tussen die plakkerskamp se kinders rond staaldruppels gly op die snelweë af na geïrriteerde potte wat kletter in beswete kombuise almal skarrel opgewonde uit in die donker agter wasem wat steier teen die kroeg se ruite. Deur al die seisoene van water deur grasvelde van gruis en tussen bome van glas bly jy steeds witmistig, net ‘n halwe asem ver, voor al die plekke waaraan my vingerpunte tas. 19:43 |
Verlangnag
Ek droom van jou jou fluister sluip in straatteergruis jou oë drup dou teen straatlamppale. Selfs jou ritsels in ‘n blaar skuif stil en skerp deur nagverhale en as ek omkyk draai jy jou rug en gooi die maan wit skadustrale oor koue gras van jou gesig. 05:11 |
Komiekstrip
‘n Blou visnet van are bult om my lyf soos ek beur my hakke ploeg diep slote en slaan dan vas deur dun skerwe en splinters van die aanloopbaan se teer. Ek het ‘n vliegtuig wat opstyg met twee rubberbande om sy vlerke gehaak en rem nou so hard as ek kan om sy wegvlug te keer. Ek beur en beur en die vlieenier wat wil wegkom probeer met motore wat huil en skree in hul laaste krag tot die rubber wit barste kry soos dit tot op die verste rek, die twee bande gly dan van die vlerke af sodat die vliegtuig loswieg en wegvlieg met jou daarop. Ek val agteroor en stamp my kop hard op die teer. Die noodvoertuie arriveer, ry my weg na ‘n steriele wit saal wat ruik na ontsmettingsmiddels en Germolene. Toe ek wakker word buig die psigiater en die saalsuster oor my neer “Wees rustig, ons het jou ingespuit teen die nagmerries en om jou te kalmeer” Ek lê terug en kyk na die TV bo my bed vir die dag se nuus die jong nuusleser trek sy skouers reg en verkondig dan die hoofberig: “’n Mal man van die weste hou ‘n straalvliegtuig met twee trekkerbande terug.” |
|