Wat is die verwantskap tussen Afrikaans en Nederlands?
Afrikaans het in Suid-Afrika uit 17e-eeuse Nederlands onstaan. Hulle is altwee Germaanse tale, soos ook bv. Engels en Duits. Die afkoms van Afrikaans uit Nederlands is een goeie rede vir die bestaan van departemente Afrikaans en Nederlands by universiteite in Suid-Afrika. Nog 'n rede, verwant aan die eerste, is dat die literatuur in Afrikaans histories 'n voortsetting van die Nederlandse is. Baie belangrik is verder die rol wat bewegings en figure in Nederland gespeel het as dryfvere en modelle vir vernuwings in Afrikaans, bv. Dertig en Sestig. In die volwassewording van Afrikaans in die literatuur en die studie daarvan het Nederlandse (en Vlaamse) letterkundige figure groot rolle gespeel: Jan Greshoff, Karel Jonckheere, Rob Antonissen, Henk Mulder en ander. Die groot akademici en digters onder die Dertigers en Veertigers, naamlik Van Wyk Louw, Eybers, Krige en Opperman, het geleef as o.a. Afrikaanse en Nederlandse praktisyns. Van Wyk Louw het etlike belangrike kritici en teoretici, ook enkele digters, as studente in die jare vyftig in Nederland (Amsterdam) gehad. "Die wêreldliteratuur is 'n volle orkes - nie 'n dun en eensame fluit nie. Elke taal, selfs die kleinste, is 'n aparte instrument met 'n eie timbre. Literatuur wat in hom volmaak uitgespreek is, word 'n onvervangbare verowering van die mens; gaan dit verlore, ly die hele mensdom skade" (N.P. van Wyk Louw in die Inleiding tot JPJ van Rensburg se vertaling van Die vroue van Troje deur Euripides, 1945). |
Die vreugde van die Nederlandse literatuur strek ver terug, ten minste tot by Middelnederlands in die middeleeue. Vandag is die groot en klassieke Nederlandse skrywers vir baie Afrikaanse lesers figure soos Nijhoff, Roland-Holst, Achterberg, Leopold, Gezelle, Gorter, Bredero, Vondel, Hooft, Lucebert en talle ander. Die opstel van so 'n lys laat mens uiteraard besef hoeveel desnoods weggelaat word!
Hoekom moet ons vandag die literatuur in Nederlands bestudeer? Die vraag ontketen natuurlik baie vrae oor die literatuur, bv. of daar iets kenmerkends is aan literatuur in 'n bepaalde taal- of geografiese omgewing? Gee Nederlandse gedigte iets ánders as dit wat ons in Afrikaans het en kry? Is die literatuur in Afrikaans onvolledig sonder die Nederlandse en Vlaamse voorgangers en tydgenote? Wat was die rol van Afrikaanse skrywers, skrywersgroepe en akademici in departemente "Afrikaans en Nederlands" in die demokratisering van Suid-Afrika se regering in 1994? (Ons dink hier bv. aan Breyten Breytenbach, André P. Brink, John Miles, die Afrikaanse Skrywersgilde.) Weer 'n gedagte van Van Wyk Louw: ons hoef nie in Afrikaans of Nederlands 'n eie Shakespeare te vind of te probeer kweek nie. Shakespeare is ons Shakespeare. Dis 'n baie bevrydende besef, teenoor baie vooroordeel en agterdog wat soms tussen lande en tale voorkom. Daar is soms uitsprake wat die literatuur en taal wil beskou as eiendom. Identiteit word daarvolgens omskryf. Die groot affiniteit tussen die tale en literature is iets baie waardevols, wat tans gevaar loop om vergete te raak. Nederlands word nie meer in Suid-Afrika op skool onderrig nie; op universiteitsvlak is dit glo ten beste verwater. Die werklike stand van sake sal ondersoek moet word. Hoekom hierdie webblad? Een van die doelstellings is om aan te vul waar universiteitsdepartemente in Suid-Afrika om verskillende redes nie (genoegsaam) studie voorsien nie, en 'n tweede is om almal wat belang stel te laat deel in die gesamentlike avontuur en vreugde van Afrikaans en Nederlands! |
Groot figure in die Nederlandse literatuur
Hooft Vondel Bredero Roland-Holst Nijhoff Bloem Lucebert Achterberg Leopold Van de Woestijne Marsman Gorter Slauerhoff Boutens Boon Cremer |
Groot figure in die Afrikaanse literatuur
Leipoldt Marais Van Wyk Louw Opperman Breytenbach Krog Stockenström Eybers Cussons Kombuis Winterbach Brink Barnard Small Nel Aucamp Blum |
Let wel: Bostaande lyste is arbitrêr geskryf, ongeag datums en met die wete dat belangrike figure weggelaat kan word, veral tydgenootlikes. Die doel is eerder om solank stof te gee wat die gebruiker in staat stel om self op die Internet en elders na te slaan. Die aandag moet op tekste eerder as op skrywers gerig word, wat in die geval van Nederlands insluit dat mens ook graag na die anonieme Middelnederlandse tekste wil gaan.
Die "prins van digters", A Roland Holst
Sy gedrae epiese gedig Een winter aan zee is onvergeetlik. Om die Noordsee-kusgebied in die winter te besoek, is om sy woorde te hoor styg. So begin die gedig: Eens liep zij hoog te spreken langs de Noordzee; een dag kermde er om aan te breken. Zij overstemde hem, sprekend nog met de nacht. Sinds haar de stad beduimelt klimt op de kou om mijn stem een meeuw, en kermt en tuimelt. |