Welkom, digter!
Die doel van studie of kritiek sal bepaal watter metodes jy gebruik. As jy taalkunde, kultuurgeskiedenis of ideologie beoog, sal jy tekste so pak. As jy dit as kunswerk beskou, waar dit oor kwaliteit -- en waarde -- gaan, heel anders. Alle paaie lei nie na dieselfde bestemming nie! Jy kan skryf wat jy wil en hoe jy wil; daar is plek in die mens vir ontelbare tekste en tekssoorte.
***
Met Van Wyk Louw glo ek dat stof- en soortoordeel verdag en oppervlakkig is; oorwegend meer uiting van smaak as oordeel. Dat 'n gedig met die oor gelees moet word (verreweg die meeste), en met Opperman dat daar 'n noodsaak vir 'n vers moet wees. Robin Skelton se "Only dullness can kill art" klink heel reg. TS Eliot: "There is no such thing as free verse; only good verse, bad verse, and chaos."
***
Analise van die teks beteken nie sonder meer 'n soektog na ideologie, menslike waardes, ens. nie. Ten beste is dit stilisties; beskryf dit met evaluering hoe die betekenis gevorm (kan) word.
***
Baie nuwe en ook gevestigde digters in Afrikaans skryf ook gedigte in Engels. Dis 'n feit. Soos Elisabeth Eybers, Uys Krige en C Louis Leipoldt, laasgenoemde bv. met 'n gedig soos "Recordatio" oor die Dood se besoek aan die slagveld. Party gedigte het Engelse (Amerikaanse) woorde in, of SMS-effekte, of wat ook al. Dis nie 'n fout nie. Dit hang soos altyd af hoe. Dis byna taalverraad om nie die literatuur in jou taal te laat gedy nie. Geslagte lank gebeur dit al; baie mense ken niks van na die tyd van die Twintigers nie. Kan so 'n taal oorleef? Kan jy vir 'n taal veg as jy nie sy kragte inspan nie, sy oes inkry, sy besieling besing? Hom by sy sprekers en buitelands vertoon?
|