LOBOLA
I. 'n Jong bruid vee selfs die agterplaas 'n Triolet 'n Jong bruid vee selfs die agterplaas om die prys van haar troubees te verhaal. Een armband kan tog nie vrolik raas. 'n Jong bruid vee selfs die agterplaas. Aangetroud is aangewaaid, oplaas, want 'n vent sonder baard is g'n sent waard. 'n Jong bruid vee selfs die agterplaas om die prys van haar troubees te verhaal. II. Honger maak die rouste bone soet 'n Triolet Honger maak die rouste bone soet, stry die suinige huisvrou, die ou spaarpot. Haar wederhelf pleit vir koue bier, warm bloed. Honger maak die rouste bone soet. Apekool sal jou bewaar en behoed, want 'n boepensmaal is uitspattig, verspot! Honger maak die rouste bone soet, stry die suinige huisvrou, die ou spaarpot. Carina Stander (Woud van nege en negentig vlerke, p 36) Requiem
(vir R.LR – beyond poetry, into eternity) so wil ek jou onthou: dat die maan sku geword het in jou oë, dat die witstinkhout by jou agterdeur se koelte jaarliks na jou uitgereik het, dat ‘n blou sysie nie bang was in jou hande nie, dat jou greep sag was om my elmboë dat ons saam in die Magaliesberg die son se eerste ritueel laggend ingewag het, dat jou mond ‘n klankbaan vol gedigte was, dat daar in jou bors ‘n arend was, dat jy my met baie woorde terug gebring het ek wil vergeet dat jy vandag onder die roep van kluite skerwend stol, daarom het ek vroeg vanoggend voor die lug, grys soos ligjare vol pyn, onder die eerste aanslag van die son verbleek, jou met baie woorde dieper weggelê Erna Jo Bobbejaanstert
Daar's 'n tyd in die jaar waar selfs bobbejaanstert blom ek kyk op na die berge en ek sien hom kom. Teen die magalieskruin waar elf en 'n half maande dofdood staan in swart teen bruin is dit nogal verregaande as my stert in pers hier skyn. Naudé Kritzinger |
KeurgedigteOns is in die nagte nommerpas
maar met die oggend droom-verlore, aangetas. (Ian Raper) ***
Sterre is nooit alleen nie In die son se laaste lig staan jy verhelderd, stralend in jou opkyk na ʼn hemel wat uit blou migreer na iets, minder as swart maar soveel meer as ʼn eensame hart. (Andre Viljoen) Holy Matrimony
Sy onthou net die laaste keer: toe al was sy doof en blind en stom geslaan, ingedop en dieper in haarself gekelder – hoop was twee mossies op ‘n kollektebord. Sy hande en voete het soos hael gekom: met die eerste val het sy hom dom gekyk, gesien hoe die gangmuur bloed en snot en spoeg spatsels vir haar huil. Sy het opgekrul onder die donder op haar kortrib en withelder sekelmane in haar niere terwyl hy blomme vloekend op haar tatoeëer. Die afdruk van sy skoensool op haar binnebeen was ‘n brutale Tretchikoff (later sou sy die streep swart skoenpolitoer in een lies met Lux en watte weg bewe), haar blaas het oopgedraai toe sy dienspistool soek na die verskil tussen haar skaamlippe en kakebeen – die loop en die kolf was oral ewe koud. Een laaste keer het sy na God geroep, maar God en hierdie dorp het hulle rug gekeer op huismoles en toe hy hyg en haar inryg op sy lus het ‘n swart karos oor haar getrek; terwyl haar hart bly klop en haar ooglede knip het sy haar slape na hom toe gedraai en oopoog stil gesterf. Erna Jo |
Zandfontein
Kyk hoe lank en dun hou die bome oor ons grafte wag, hoe die marmer pynloos sug oor lewens tussen datums gerantsoeneer kyk hoe skil ons die geskiedenis van ons lyke af Erna Jo |
BAIE MOOI
die museumklok lui en lui, en die museumklok lui en lui en lui. die here is nie jou herder nie. jy maak en breek soos jy wil. jy verfris jou siel deur te luister voor jy praat en ken al die paaie van geregtigheid, en ongeregtigheid soos al die uitsprake van jou eie naam. en die museumklok lui en lui en lui, die museumklok lui en lui. soos aan jou bok se nek, klok leë bottels aan jou fiets se nek. dis jou langste winter ooit. plek-plek gieter lentereën gate in die pad voor die plaas se hek. die kaap is ‘n winterreënvalstreek. en die leë bottels aan jou fiets se nek klok- klok oppad dorp toe om geruil te word vir brood, of bier. vir brood of bier. en die museumklok lui en lui en lui, die museumklok lui en lui. die son wyk voor die dorp se gloed. jou koue stem eggo deur ‘n radio: dirk se naam met verf gemerk, jansfiskaal se erf gevlerk, bakkapel kerf sy kamp in sand. wind ontwaak. verwarrende plakkate fladder in die wisselstraal se neonlig. ‘n selfoontoring fluit vir jou kerkgebou. en verf verweer en vlerk ontveer, selfs sand kol rond. dis al. en as die maan en uil jou groet, blokkeer jou lykstoet oggendverkeer. die wêreld is jou woning wel, profeet. die wêreld is jou woning wel. en die museumklok lui en lui en lui, die museumklok lui en lui. en as jy ooit van hom vergeet sal hy soos ‘n teël val en breek. tot in lengte van dae sal sy skerwe deur jou voete steek. die museumklok lui en lui en lui, die museumklok lui en lui. een aand na ‘n uitsondering ver, ver van die reël, tel ek ‘n droë eikeblaar langs jou van die sypaadjie op. die museumklok lui en lui en lui, en die museumklok lui en lui, en jou gedigte is baie mooi, baie mooi, baie mooi, sê jy en ek bêre die dooie blaar in my boek want dis baie mooier as ‘n gedig. baie mooier as ‘n gedig. (pb) |
Binne kring
Die aarde maak homself kleiner
net vir jou.
Die see kom uit sy ver plekke nader
tot wit skuim teen die voorste rotse,
wat jy uit jou bed kan sien.
Elke oggend bring die wind
vars klam sout geure
om die kamer vol te hang
sodat jy nie na skulppoele
hoef te verlang nie.
Suikervo♣ls fladder teen jou ruite
en ek strooi handevol mieliegruis
op die grasperk voor jou vensters
dat jy kan lag vir die fisante.
En as die son saans agter Hangklip weg raak
trek ek die gordyne dig toe teen die donker .
wat met elke dag wat uitloop
swarter groei en meer duister kring.
André Viljoen
Die aarde maak homself kleiner
net vir jou.
Die see kom uit sy ver plekke nader
tot wit skuim teen die voorste rotse,
wat jy uit jou bed kan sien.
Elke oggend bring die wind
vars klam sout geure
om die kamer vol te hang
sodat jy nie na skulppoele
hoef te verlang nie.
Suikervo♣ls fladder teen jou ruite
en ek strooi handevol mieliegruis
op die grasperk voor jou vensters
dat jy kan lag vir die fisante.
En as die son saans agter Hangklip weg raak
trek ek die gordyne dig toe teen die donker .
wat met elke dag wat uitloop
swarter groei en meer duister kring.
André Viljoen