Die gedig van Meester Rottevanger
Sy rydier het groot klokke aan en teuels met goue randjies, sy saal kraak soos die leer van 'n pofadder se vervellings, 'n stadige loop tot lángs die fontein, die plein van al die inwoners. Hy vou sy sak van varkleer oop; 'n pyp blaas rook uit by sy neus. Hier in die hoofstraat word hy geken en gevrees aan die reuk van rotte. Die riet van die rotvanger blink nou gepoleer om al die gaatjies wat hy toestop met dik vingers sonder eelte. 'n Dun lip blaas leë lug: die rotte, elkeen met 'n hoed op, dans. 'n Massa volg uit grys riool sy eentonige bravade tot by die water om die fort. Hulle stroom in die rondte van die grag en skop plesierig al om die kolkgat van die dood. VoorhandeAl die tegnieke moet in plek wees:
jou greep, jou staan, jou oog op die fyn haartjies van die geel bal wat groter groei en óp wip tot die styfgespande snaar. Dan, soos 'n luiperd op 'n tak: die balans tussen konsentreer en ont-spanning van die spier op die stil punt van die skaal. Die einde word bepaal deur dood- eenvoudige fisika: gravitasie, weerstand, die spin en val van die bal, die kreet van 'n regter, ink op papier en ‘n foto vir die agterblad. Geskeide trilogieI
Skei/ding een vir jou, een vir my ons sny die harte middel-deur II gesnoei jy hartseer my III Vadersdag-geskenk hier moet ek nou slaap met twee kussings langs mekaar en ek met net een kop middernag kom kruip my seuntjie langs my in en ek weet ek is nie al een nie Vereistes vir verse
My vereistes is eenvoudig eenvoudigheid heel eerste – wie wil jy impress met inflatis stercore? sê dit soos dit es, ontbloot maak dit die seerste. Laat die ritme jou klots na die plekke waar sy drom soos skommelperde skommel, of soos tier grom. As daar niets te seg is, bly maar eerder stil, die moetgesêde woorde kom ook in kleiner blikkies in. Ek sê nie daar moet nie, maar sjoe, as dit kan teken ’n sweep met ’n sweepslag wat deur die asem gaan. Rym? Eerder binnesmonds en binnesins, tensy jy ‘n meester is – Jy’t klaar verloor as jy wonder: wat rym nou weer met “is”. Dan vra ek dom: werk dit, hou ek daarvan; sou ek dit wou doen as ek dit sou kan? |
Holberg
Die oues sê die aarde is
'n kremetart en oud. Die jare het haar uitgehol dat net die bas en bietjie hout 'n tronkstruktuur daar bou: 'n ondergrondse eiffeltoring met 'n spitspunt in die hel. Dit word vertel; as jy jou laaste asem uit blaas jy sou dun word: jou siel sy hande op sal lig, jy soos ‘n stukkie strooi sal sak, af met die kors se pype, deur magma tot in die warm hart van straf. Hulle sê: al het ‘n oog nog nooit gesien nie, dat waar hokke nou leeg staan daar in 'n wit orkaan gegaan het om kettings los te knak. Paasjaar
Daardie jaar het ek soos 'n donkie die hoop van palmtakke ingevaar. Maar Judas het vroeg-aand met skoon voete, 'n vuil gewete en 'n maag verkramp aan brood en wyn uitgestap, sy konkelgange die donker ingefluister. Die vyeboom het bloed gehuil: buite dra sy soen. 'n Legioen met brandende fakkels van haat en mísverstand het my, bietjie vrywillig, weggelei na wolwe. Tande van metaal en tou het stukke vleis uit geslag, geruk van lag toe die pad van skedels te moeilik was om alleen te dra. Klein genades in sterk hande bring my by die kruispad wat my alleen tussen geroofte rowers ondergronds vat en dieper as die see verdrink. Dit kon nie verder af nie; toe was dit op. En hier's ek nou op die oujaar - ek proe die lug en son. Soos herontdekte lewe kom dit op, kyk ek op as die swaar ronde wiel van tyd voor die graf stadig draai en 'n nuwe jaar oop sluit. In my Pa se huis Sy arms roep my uit die mis om nader te kom, die herfs se stilte in, te rus van die alewige gevroetelry. Die kleur in sy huis is palet, die vloer gladgevryfte beesmis; dit weef ‘n sagte net met spiraalpatrone om oor te loop na skilderye met my naam op: wolke en takke soos kinders dit sien. Die vensters is landskappe waarteen jy binnetoe leun. Ek verlang na die stil dialoog tussen die kaggel en die stoel. Naguil
Die afrikaanse naguil klink vanaand uit my mond as sy meer aards en nags as ’n bromvoël roep: O Heer vergewe ons. Het jy geweet (vra hy slim op Gautengs) 'n naguil is g’n uil nie. Wat maak dit tog saak wat of hoe wys wie roep? - almal in Afrika hoor sy vraag en wag op die antwoord van die groot gees. Hy lewe in die klip en sand en mense van die donker land. Hy is die gras en saad, die ingroei-toonnaels van die kremetart; As impala-lelie se blommetjies en die rubberskille van maroelas saam kring om sekelbosvure, erken sy ook die duiwelshand as ons sing: O Heer vergewe ons. |
|